Wie Jy Werklik Is Poem by Monica May

Wie Jy Werklik Is

Met jou oënskynlike onskuld
mok jy verantwoordelikheid
en buig en breuk jy die lyn
tussen reg en verkeerd.
In die oë van die wêreld
is jy die goeie gepersonifiseerd.

Maar ek weet wie jy werklik is
agter die pretensies en die leuens.
Ek weet wie jy is.

Ek weet want dis die ware jy
wat soos ‘n donker skadu
steeds in my gedagtes verskyn.
Jy het jou merk op my siel gelaat
en ontasbare letsels
onuitwisbaar geëts in my brein.

Ek weet wie jy werklik is.

Hoe kan ek vergewe?
Hoe kan ek vergeet?
My magtelose kinderlyf
vasgepen onder jou gewig,
jou hande en lippe koorsig soekend,
jou asem walglik warm in my gesig.

Ek weet wie jy werklik is.

Jy het jouself veronskuldig,
al het sy jou op heterdaad betrap.
En met haar stilswye spreek sy jou vry;
met haar stilswye verseël sy my lot.
My beskermengel, my lewensbron,
my Judas Iskariot.

Ek weet wie jy werklik is!

Met Suster getrou aan jou sy
skeur jy my van vlees en bloed.
En met valse getuienis benoem jy my
Delilla in ‘n sondagskoolrok.
Lewenslank gebrandmerk:
die onskuldige sondebok

Niemand glo wie jy werklik is …

Maar Hy sien deur jou valse fasaad
en Hy ken jou skynheilige lag.
En ek bid vir jou dag om te kom,
vir die dag wanneer Hy jou kom haal,
want ek weet Sy oordeel is regverdig
en Sy uitspraak is finaal.

COMMENTS OF THE POEM
Constantinos Kalotaris 08 February 2009

What kind of language is this? Does anubody speak it now? How many?

0 0 Reply
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Monica May

Monica May

Vereeniging
Close
Error Success