Siek En Sat Poem by Monica May

Siek En Sat

Ek’s siek en sat vir voorgee
Vir ja sê wanneer ek wil sê nee
Om te sê dat ek werklik gelukkig is
Dat daar niks is wat ek uit my lewe mis.

Siek en sat vir die agteraf geskinder
Om aan te hou glimlag asof dit my nie hinder
Om vir alles wat verkeerd loop die skuld te kry
Om ter wille van vrede eerder stil te bly

Siek en sat om mooi broodjies te bak
Vir ander wat baas speel onder my huis se dak
Vir ‘n familie wat laaste sê het in elke saak
Selfs oor hoe ek my kinders groot moet maak

Siek en sat om na ander se pype te moet dans
Om te weet my eie wil staan nooit nie ‘n kans
Om te voel hoe ek myself al hoe meer verloor
Dat hul valsheid en materialisme my nog gaan versmoor

Ek is siek en sat om in ‘n leuen te lewe
Om ander se drome en ideale na te strewe
Om altyd almal te probeer tevrede stel
Om soos ‘n vreemdeling te voel in my eie vel

Ek wil lééf, ek wil wees wie ek rêrig is
Ek wil al die valsheid in my lewe uitwis
Om sonder kommer te kan sê wat ek voel:
Om siek en sat te wees is nie vir my bedoel!

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success