Rekenkunde Poem by Charl-Pierre Naudé

Rekenkunde



"I was angry when I realised I had been lied to" - Rachel Zadok

'n Skrywer praat
oor haar geluk as kind,
niksvermoedend onder die juk
van propaganda en die skande
van apartheid -

'n tyd van kwaadwilligheid,
sonder twyfel.

Sy was kwaad vir die bewindhebbers
toe sy later besef
hoe hulle vir haar gelieg het.

Maar was die euwel
só kwaadwillig,
as dit innigheid is
wat wou beskik?

Kwade Wil is self maar 'n gehate skepsel.
Die Kruisvaarders het hom al voorgelê
en in voetboeie en kettings geslaan.
En steeds sleep ons hom deur die strate,
neuk hom met stokke dat hy skubbe kry
en steek die ou kookwater met messe dat hy sis,
(die fokken ou sirkusvirus aan sy rinkelende leiband):
"Dans, jou hans-satan, jou logge Gog!"
"Kap oop daai kastaiing!"
"Dat sy hare kan koek
om die piepende pit."
"Ja, dit lyk of hy bloei ..."

Arme, arme
Kwade Wil.
Hy is maar net wat hy is:
vaartjie na sy aardjie.

Wat van die nie is nie?
Dis 'n groter bekommernis:
Laat staan tog die beer
oor sy toonnaels wat so lank is.
En die voedoepoppe dans nie
uit eie keuse nie.

'n Kosbare herinnering
aan my liewe pa,
waar hy sit onder die gespanne boog
van 'n leeslamp se lig en straal oor sy boek;
'n witwortel wat pas uit die grond getrek is:
"Treblinka, Auschwitz, dit mag nooit weer
gebeur nie" - prewelend, in die hoek ...

die hele wêreld tuis
terwyl die drukkoker saggies fluit
in die kombuis

waar die sterwensgang van duisende
plaasvind sonder dat dit lyke agterlaat.

Al wat nodig is
vir die bloederige opklits
van 'n slawe-optog en nuwe skelette in die tuig,
vir die klein koeverte waarin die universum versmoor,

die stamper wat God soos 'n sel vernietig,

is een,
slegs één, enkele
opregte mens.

En van hulle het ons vandag
meer as genoeg.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success