NARRATIEF VAN DIE PARKBOER Poem by Antjie Krog

NARRATIEF VAN DIE PARKBOER

Oom Jakobus de Wet praat poetry
‘rondom Jerusalem is berge
hier alleen by die bokke in die veld
is ook berge
maar rondom ons is God
ek voel Hom heel aand aankom so van Akkediskloof se kant

my kleinkind Benjamin doen die weiwerk
sy mond het my dit vanoggend gesê
self gesê hy wil 'n veeboer wees
en ek is tevrede
God het vir elkeen 'n talent ingesit
saans by die staning hoef ons nie te praat nie
ons weet waar gewei is waar gewei moet word
dis 'n goeie lewe om aan 'n kind te gee
elke kind het sy eer
laat ek dit maar sê
dis baie smaaklik om saam met 'n kleinkind te wees
hy laat jou lag
hy laat jou goed praat wat nie heeltemal toepas nie
dis goed om by 'n kind te wees

want dag en nag is jy alleen hier by die staning met Christus
julle praat
jy kan agteroor lê
en met helder oë met Hom praat
jy kan maar net kyk
want gees gewaar gees

weerloos lê die rivier
oop aar in die hitte
die landskap ondenkbaar sonder die bruingroen sny
onverwoesbaar ouer as die oudste mensasem op klip
hy voed die bokke van maak en die bokke van dood
hier's van niks te veel
hier's van niks te bittermin
die berg aan die oorkant lyk soos iets wat lek
teen middaguur blus dit in blou

ek kyk op my horlosie
dis twintig minute voor drie
en dit beteken absoluut niks nie
ons dommel tussen koelte en vreet en hitte

die son kantel eindelik
die rante galm van blêr soos die groot bokke staning toe kom
die vasgebinde lammertjies spook aan hulle riempies
niks so saf soos boklam
(onthou my taal)
niks so soet snoetig
fynbekkig weerloosogig soos boklam
teen die aand se kant
party kry tiet party kry vreemde tiet
dis grootblêr tot platblêr tot kleinverloorblêr
tot mofblêr tot sanikblêr tot bederfblêr
tot vererg se baasblêr

die fluweel van 'n boklam se oor
glip deur my hand
‘hoe lê ek die lyne af na jou toe lief
as die laat lig so kliplangs knel'

‘'n kleur kom nooit alleen nie,' sê sy
toe die rante teen skemer losraak en wegval in blou kantvalle
die plooingsgebergtes omsit in vuur
en amber
die rivier verstil tot weerkaatsende stroke selei
dit raak voeltyd en voëltyd
deur die geweld van kleur en riet
vlieg 'n reier stil die vallei af
bontrokkies kuifkoppies sysies
bondel in tossels op die grasbank langs my tent
die berg bêre sy klip in die water

daar's 'n trilling van klip en rivierwilgers en riet
'n duif in die krans val verskrik in klank

ek slaap op die wal van Die Rivier
die hele nag vloei dit stil en breed by my verby soos bloed
uit 'n wond - bokant lê die gruis van sterre
maak die nag haarself oop -
dadelik is kleur die oerkluts kwyt

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success