Die Lig In Jou Poem by Elna Agenbach

Die Lig In Jou

die pad is lank
en moeisaam
bult op en af
tussen suring
en kapokbos
na jou regop
rug - jy tree
seker oor die
plat bruin
leiklip waar
ʼn skerpioen
mag skuil
jou voete
maak duike
in die grond


en entweg
kyk jy om
of ek nog kom
selfs nou
tussen donker
en dou
by die boorgat
verby na die vars-
watertenk
waar die gous-
blom vanself
opkom

die tou tussen
my en jou
is gerafel
en minder wit
met knakke
waar knope was

maar die stem
van jou hande
dra ʼn skaap
en geneesbos
groei op jou tong

die lig in jou
lende sprei
skoner strale
net vir my

en soos God
het jy my
weer vergewe

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success