DIE HUISVROU Poem by Ronelda Kamfer

DIE HUISVROU

antie Doris was 'n tipiese tannie
soggens het sy haar kinders by die skool kom afsien
met 'n pienk check overall en groen rollers in haar hare
het sy heeldag huis skoongemaak, wasgoed gewas en kos gekook
sy was 'n huisvrou
eendag in Junie het dit vreeslik gereën
maar antie Doris het wasgoed opgehang, vensters gewas
en haar stoepplante water gegee
later het 'n polisievan en twee van Tygerberg se lykhuisbussies
voor haar huis gestop
drie bodybags is op stretchers uitgestoot
een grote en twee kleintjies
antie Doris het vir die eerste keer in jare
'n blomrok aangehad met haar hare wat in lang los krulle
oor haar skouers hang
sy is gehandcuff en het agter in die polisievan geklim
sy't vir ons nosey bystanders gesê dat ons maar kan kyk
haar huis is skoon

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success